Sqrindle
Vonnis van die Berge

Fiction & Literature

Vonnis van die Berge

Summary

Weet u dat Suid-Afrika ook sy eie, egte “cowboy”-tydperk gehad het? Hierdie westerns reeks is seker die beste wat nog in Afrikaans verskyn het. Daar is volop aksie, romanse, drama, spanning, verraad, korrupsie, ens. Tipies die Woeste Weste van toeka.

Price

USD $8.99

Card

WOESTE LAEVELD REEKS - VONNIS VAN DIE BERGE

In die woeste avonturiersdorp van Barberton, reik die landdros ’n lasbrief uit vir die arrestasie van Johan Grimbeek, op aanklag van moord en roof. Sake lyk baie donker teen Grimbeek, maar die noodlot bewerk dit so dat as hy ’n sekere perd in die hande kan kry, ’n perd wat wild in die berge groot geword het, hy sy onskuld sal kan bewys. Hy vlug voor die landdros se manne uit en gaan die berge binne, om die perd te probeer vang. Dit is ’n prag van ’n dier en ratser as ’n wildsbok...

Maar voordat Grimbeek na die berge toe gaan, word hy op gesoek deur ’n meisie. Sy weet dat Grimbeek nog al die tyd soek na ’n spesifieke man, ’n skurk en moordenaar, met wie hy reeds twee maal in bloedige botsings betrokke was. Sy wil hom gaan help om hierdie man, Mario Perreira, op te spoor en wraak te neem.

Met trane in haar oë en hartstogtelike woorde op haar lippe, soebat sy hom om haar saam te neem wanneer hy in die berge in ry, want sy het net een groot begeerte en dit is om hom te help en saam met hom wraak te gaan neem.

Johan Grimbeek laat haar toe om saam te gaan, en baie dae en nagte bring hulle saam in mekaar se geselskap deur. In die tyd beleef hulle baie asemrowende avonture saam. Wanneer hy siek word, verpleeg sy hom, en wanneer sy lewe in gevaar is, help sy hom veg. Die landdros se manne is later kort op sy hakke, terwyl Mario Perreira weer voor hom in die berge is, besig met sy duiwelse planne om hom vas te trek... En intussen moet hy nog daardie ongelooflike ratse, wilde perd vang...

#WoesteLaeveld




  • Pieter Haasbroek
    30 Oct 2022

    Weet u dat Suid-Afrika ook sy eie, egte “cowboy” tydperk gehad het? Die uitmuntende Woeste Laeveld reeks deur Braam le Roux en Dewald Brink is nou weer beskikbaar in aksiebelaade stories wat hierdie swaar tydperk baie goed aanspreek. Braam le Roux was een van Suid Afrika se top Afrikaanse storie skrywers met meer as ’n 100 boeke in sy kort leeftyd agter sy naam. Saam met Dewald Brink het hulle die Woeste Laeveld reeks (ses boeke) die lig laat sien, wat volgens my die beste Afrikaanse “cowboy” tipe stories is wat ooit in Afrikaans geskryf is. Na die eerste ses boeke in die reeks het Braam le Roux egter op sy eie nog 'n verdere twee boeke vir die reeks geskryf. Al agt storieboeke in die reeks is propvol aksie, romanse, drama, spanning, hartseer en vele meer, presies soos dit ook was in daardie tyd. Dit was in die dae toe vroue “skaars en duur artikels” was. Toe wilde avonturiers uit die buiteland in hul honderdtalle die land binne gekom het en toe vee-smokkelaars en diewe met goud, sterk drank en blitsende rewolwers dikwels ’n hele gemeenskap regeer het. In die wilde, woeste Oos-Transvaal, waar die eerste groot goudontdekkings in Suid-Afrika gemaak is, het hierdie dinge gebeur. Daar was vurige, hartstogtelike meisies, soos Juanita, wat bereid was om siel en liggaam op te offer aan die man wat hulle lief gekry het. Die verhale in die reeks, speel af in die tagtigerjare van die vorige eeu toe Barberton, in die bergwêreld van die Oostelike Transvaal, nog wild en woes was. Fortuinsoekers het uit verre oorde die aarde kom omdolwe op soek na goud. En te midde van geldsug en ’n koorsagtige gejaag om ryk te word, het hartstogte opgevlam. Haat, weerwraak en jaloesie was stukragte wat die mens tot die uiterste gedryf het. Wet en orde kon nie altyd behoorlik toegepas word deur die geringe polisiemag wat toe bestaan het nie. Die opperheerskappy van die rewolwer, geweer en dolk het meestal die deurslag gegee in die stryd tussen reg en onreg en was deur baie beskou as die eintlike wet. Maar te midde van hierdie ruwe era en wilde hartstogte, was daar ook die mooi ontplooiing van liefde tussen man en vrou, waar innige emosies soms deurstrengel geraak het met siedende wraaklus, moord en vernielsug. In die moeilike tydperk was daar dus geen genade ooit gevra of gegee nie en net die sterkste en slimste en soms ook die grootste skelms het oorleef en hierdie reeks het dit alles uitstekend beskryf . Beslis ’n reeks wat my altyd sal bybly en ’n goeie idee gegee het van hoe swaar dit werklik was in daardie era en goeie tye wat selde die geval was. Hierdie reeks kry dus volpunte van my af, want die beskrywings van gebeure en die ware geskiedenis daar agter is so goed vasgevat in die skrywe van die uitsonderlike verhale, dat enige ander soortgelyke stories hard gaan sukkel om enigsins naby dit te kom.


You can get % of commission by promoting my book, please signup to my affiliate program using the link below.
Payouts are after days of purchase.