Sqrindle
Braam le Roux

Braam le Roux

About Braam le Roux

BRAAM LE ROUX  -  (ABRAHAM LE ROUX BOTHA)

Braam le Roux (28 Augustus 1918, Middelburg - 31 Desember 1956) is die skuilnaam van Abraham le Roux Botha. Hy was ’n Afrikaanse skrywer van spanningsverhale, wat veral bekendheid verwerf vir sy reekse boeke oor, Die Swart Luiperd, Temmers van die Woestyn, Die SA Polisie, Die Swerwerspeurder en Die Woeste Laeveld reeks. Laasgenoemde skryf hy saam met die skrywer, Dewald Brink. Sy reeks boeke is so gewild dat al sy reekse na sy dood voortgesit word deur ander skrywers. Die skrywer F.A. Venter (onder die skuilnaam Meiring Fouché) publiseer nog 23 titels in Die Swart Luiperd reeks, terwyl die skrywer R. Hendriks die Temmers van die Woestyn reeks voortsit. Die SA Polisie en die Swerwerspeurder reekse word deur Gys van Graan, Gerrie Radlof en F.A. Venter (as Meiring Fouché) voortgesit. Deur die loop van le Roux se loopbaan publiseer hy meer as 'n honderd boeke.

 Braam le Roux verwerf egter veral bekendheid vir die reekse wat hy vir boekklubs skryf, naamlik Die Swart Luiperd, Temmers van die Woestyn, Die SA Polisie, Die Swerwerspeurder en Die Woeste Laeveld reekse Hierdie reekse is vol spanning en opwinding en verskaf iets nuuts tydens die verskyning daarvan, aangesien dit eg Suid-Afrikaans is en nie op buitelandse modelle steun vir inspirasie nie.

In die Swart Luiperd reeks is Leon Fouché, ’n jong Boerseun wie se ma reeds voor die Tweede Vryheidsoorlog deur die Basotho’s vermoor is. Sy pa trek dan die wildernis in en neem sy enigste seun saam. Na sy pa se dood vertoef Leon in die wildernis en klee hom in ’n swart luiperdmondering. Saam met sy twee mak luiperds, Simon en Spikkels, beleef hy verskeie avonture diep in die hartland van Afrika en kom vreemde wesens, diere en beskawings teë. So gewild is Die Swart Luiperd dat die uitgewers hierdie reeks na sy dood met ’n ander skrywer voortsit. F.A. Venter, onder die skuilnaam van Meiring Fouché.

Die Temmers van die Woestyn reeks is ’n reeks sonder ’n deurlopende hoofkarakter en beskryf avonture in die dae toe die land nog woes en ongetem was en mense nog ver uitmekaar gebly het. R. Hendriks skryf ook na sy dood ’n groot aantal boeke in die Temmers van die Woestyn reeks.

Die S.A. Polisie en Swerwerspeurder reeks bestaan eintlik uit twee reekse, naamlik die S.A. Polisie reeks (met die speurkonstabel Kobus Roode as held) en Die Swerwerspeurder reeks (met die privaat speurder Obed de Swardt as held). Braam le Roux is oorlede voordat hy hierdie reekse kon voltooi en die uitgewer kombineer daarna die boeke in een reeks, sodat die hoofkarakters mekaar afwissel. Die gewildheid van die boeke noop hulle ook om vir Gys van Graan, Gerrie Radlof en Meiring Fouché te nader om ekstra boeke in die reeks te skryf.

Saam met Dewald Brink skryf hy ook Die Woeste Laeveld reeks. Dit is geskoei op die voorbeeld van die Wilde Weste-verhale uit Amerika en speel af in die tydperk 1885 - 1887, toe die ontdekking van goud honderde mense na die gebiede om Barberton laat stroom het. ’n Kosmopolitiese bevolking is in Barberton saamgehok en wetteloosheid het onrusbarend toegeneem. Die Republikeinse Polisie is nie in staat om hierdie wetteloosheid die hoof te bied nie.

 Abraham le Roux Botha is op 28 Augustus 1918 op Middelburg in die Transvaal gebore. Hy matrikuleer in Pretoria en is dan werksaam by die Spoorweë en die Staatsdiens terwyl hy deur private studie verder studeer. Daarna is hy as joernalis verbonde aan Die Transvaler en Die Ruiter, totdat hy besluit om hom voltyds aan sy skryfwerk te wy. Weens ’n ongeluk te perd is sy linkerhand slap en onbruikbaar, wat meebring dat hy al sy verhale met net een hand moet tik. Ten spyte van hierdie gebrek is hy die enigste Afrikaanse skrywer wat in die vyftigerjare uitsluitend van sy skryfwerk leef en daarmee ’n behoorlike inkomste verdien. In die laaste jare van sy lewe het hy ’n vaste kontrak gehad om twee boeke per maand te lewer! Hy was getroud. Hy is op 31 Desember 1956 oorlede, kort nadat hy van vakansie in Houtbaai in Kaapstad teruggekeer het na sy woning De Deur naby Johannesburg. Op pad terug voel hy reeds nie lekker nie en tuis ontbied sy vrou die huisdokter, maar hy is kort daarna oorlede.

(Info obtained from Wikipedia).

https://www.softcoverbooks.co.za